Swak wisselwerking

Betaverval vanweë die swak wisselwerking. ’n Betadeeltjie (in hierdie geval ’n negatiewe elektron) word deur ’n atoomkern vrygestel. INLAS: In die verval van ’n vrye neutron word ’n proton, ’n elektron (negatiewe betastraal) en ’n elektron-antineutrino geproduseer.

Die swak wisselwerking of swak kernkrag is in fisika en deeltjiefisika een van die vier basiese natuurkragte. Die ander is die elektromagnetiese wisselwerking, sterk wisselwerking en swaartekrag.

Die swak wisselwerking is verantwoordelik vir die radioaktiewe verval van subatomiese deeltjies en sit die proses bekend as waterstoffusie in sterre aan die gang. Dit beïnvloed alle bekende fermione, dus deeltjies met ’n halftallige spin.

In die Standaardmodel van deeltjiefisika word die swak wisselwerking teories veroorsaak deur die uitruil (dus emissie of absorpsie) van W- en Z-bosone. As sulks word dit beskou as ’n niekontakkrag, nes die ander drie kragte. Dit word "swak" genoem omdat die tipiese veldsterkte daarvan verskeie ordes van magnitude minder is as dié van beide elektromagnetisme en die sterk wisselwerking. Dit vind net op baie klein, subatomiese afstande plaas, minder as die deursnee van ’n proton. Die meeste deeltjies sal mettertyd deur ’n swak wisselwerking verval.


Developed by StudentB